Deur die sardiensskool as massief te beskryf, is om nie naastenby die omvang daarvan aan te dui nie aangesien miljoene van hierdie vissies soos ‘n rivierstroom deur die water beweeg in ‘n blok van ongeveer vier meter diep en vyftien kilometers lank en ‘n beraamde vier kilometers wyd. Die migrasie is so groot dat waarnemingsateliete vanuit die buitenste ruim dit opspoor. Die sardiens beweeg in hierdie groot getalle en dig by mekaar om hulself te beskerm teen roofvisse en roofvoëls en sodoende hul kans op oorlewing te vergroot. Aangesien hul leef van plankton na aan die wateroppervlakte, word hulle ‘n maklike prooi vir roofvisse en –voëls.
KwaZulu-Natal is nie bekend vir sardiensvangste nie en ‘n skamele sewe honderd ton word jaarliks daar gevang in vergelyking met die ongeveer vier duisend ton in die waters van die Oos-Kaap. Met die jaarlikse sardiensstormloop wat so na aan die kus is, loop vissermanne van die strand die see in en trek ongelooflike hoeveelhede sardiens met nette uit die see.
Aangesien dit ‘n jaarlikse natuurverskynsel is, verwyder die owerhede die haainette van hierdie stuk kuslyn tydens die sardiens se loop ten einde nie in te meng met die natuur en die roofvisse wat hierdeur na die kuslyn gelok word nie. Haaie wat tydens die tydperk opgemerk word, sluit in Groot Withaaie, Hamerkophaaie, Zambesies en vele meer, terwyl tot twintig duisend dolfyne ook teen die kuslyn saamdrom om die sardiens te vreet. ‘n Wye verskeidenheid seevoëls drom ook bokant die skool saam. Veral die dolfyne toon ‘n besondere taktiek waar hul saam jag en ‘n groep sardiens omsingel en hulle dan van die hoofskool afsonder en na die oppervlak dwing waarna hulle hul vangs opeet.
Hierdie “natuurverskynsel” kan vanaf die kus gesien word aangesien walvisse, haaie en dolfyne en seevoëls almal sonder ophou werk daaraan om soveel moontlik sardiens te verorber. Professionele en amateur fotograwe gryp ook die geleentheid aan om ‘n “skoot van ‘n leeftyd’ van hierdie verskeidenheid seediere te kry. Daar is ook maatskappye wat besoekers na die kern van hierdie eetfees van visse neem. Skubaduik en onderwater besigtiging kan vir ‘n onvergeetlike ervaring sorg.