Van 1 tot 3 Februarie 2008 gaan die Origin Festival 2008 te Rivierplaas plaasvind langs die Breederivier naby Worcester. Die beplanning is ‘n fyn besonderhede gedoen en daar gaan selfs twee verhoë wees om die klanke van die psigedeliese musiek te laat sweef oor die rustige rivierwaters. Die psigedeliese vloer begin die Saterdagmiddag met ‘n indrukwekkende mengsel van plaaslike en oorsese kunstenaars. Besoekers kan uitsien na die klanke van Aleph, Headroom, Lost n Found, Shift, Atomic Culture, Cooks, Allaby, Toby 2 Shoes, Zion Linguist, Atomic Pulse, Protoculture en nog vele meer.
Die tweede verhoog is effens kleiner maar word al van die Vrydag gebruik. Daar sal bekende DJ’s soos Jeanne Dee, Jan, Fletcher, Danalog, Mike Suss, Miss H, Pants, Vernon, The Sheriff, Juan Thyme, DJ Low en Traci onder andere optree om na die behoeftes van die dansende menigte om te sien. Deur die naweek kan besoekers ook video’s kyk en klanklesings aanhoor oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe.
Die besoekers kan staatmaak op mediese fasiliteite, skoon storte en toiletfasiliteite, kosstalletjies en skaduryke kampeerareas. Daar is ook ‘n indrukwekkende mark en sekuriteit sal dwarsdeur die naweek sigbaar wees. Kampeerders word aanbeveel om flitsligte, sonskerms, gasstofies, warm kleding vir die aande en insekweerders saam te bring. Ter wille van die beskerming en privaatheid van die besoekers is die volgende verbode: houtvure, kameras, huisdiere, glasbottels, wapens asook enige vorm van onwettige substansies.
Besoekers moet minstens agtien jaar oud wees en kaartjies wat vooraf gekoop word, kos R160 terwyl dit by die hekke R180 sal kos. Die hekke open om 15:00 op Vrydag 1 Februarie. Dit word gewaarborg as een van Kaapstad se hoogtepunte en moet nie misgeloop word nie. Vir musiek, aktiwiteite en pret moet jy daar wees.