Die meeste lede van die Shembe Kerk is Zoeloes en hul kerk is geleë op ‘n gewyde perseel met die naam Ekuphakameni wat vertaal word as “Plek van Geestelike Opheffing”. Die kerk is vernoem na sy stigter, Isaiah Shembe, en hy was ook die eerste persoon wat die pelgrimstog na die Heilige Berg (Nhlangakazi) voltooi het nadat hy deur God geroep is in 1916. Dit word vertel dat God met hom gepraat het soos met Moses by die Berg Sinai. Ekuphakameni is ook die tuiste van die allerheiligste aanbiddingsplekke en is die plek waar die heilige water vir seremonies bewaar word.
Die Shembe-geloof is ‘n kombinasie van Zoeloe-kultuur en Christendom en is op die Ou Testament van die Bybel gegrond. Stokke wat altyd as ‘n wapen gesien is, word nou vir genesing gebruik en die hele Shembe-kultuur berus op leerstellings van vrede en genesing. Hulle beoefen ook vastye en deel in praktyke soos om mekaar se voete te was. Tradisionele Zoeloedanse word in die beoefening van hul geloof ingesluit en die kerk het talle feeste en pelgrimstogte elke jaar. Die kleurrykste van hierdie pelgrimstogte wat deur toeriste bygewoon word, vind aan die begin van elke jaar plaas en is bekend as die Shembe Peligrimstog na die Heilige Berg.
Die pelgrimstog duur drie dae en strek oor ‘n afstand van tagtig kilometer van Ebhohleni na Nhlangakazi. Lede van die kerk dra wit klede en stap langs die pad na die Heilige Berg terwyl hulle prysliedere sing. By die berg aangekom, voer hulle aanbiddingsdanse uit en bespreek hul geloof en godsdiens. Dit is ‘n rare ervaring om deel te wees van die kultuur in Suid-Afrika en hierdie pelgrimstog van godsdienstige lofprysing mee te maak. Die Shembe Pelgrimstog is een van die weinige geleenthede waar besoekers die kans sal kry om deel te neem aan so ‘n gewyde seremonie.