Dit is dikwels die geval dat saakmakende argeologiese ontdekkings bloot per toeval plaasvind. Tydens uitgrawings vir kalksteen in die 1920’s is menslike oorblyfsels letterlik met ‘n ontploffing in een van die grotte gevind. ‘n Plaaslike onderwyser, Wilfred Eitzman, het die historiese waarde van hierdie vonds raakgesien en het dit onder die aandag van professor Dart gebring. Dart het die vonds in ‘n artikel oor die Makapansgat Vallei gepubliseer en daarna verwys as ‘n plek van vroeë menslike vestiging, maar eers in 1947 het hy en ‘n span navorsers hul onverdeelde aandag aan die plek gegee en op ‘n fassinerende aantal ontdekkings afgekom. As ‘n voorbeeld is die feit dat sommige van die beendere bewyse getoon het dat dit verbrand is en dit het die vraag laat ontstaan of dit doelbewus gedoen is en hoekom. Daar is ook ontdek dat die pelvis van die sogenaamde “Australopithecus Africanus” tweebenig was ─ dus ‘n wese wat regop geloop het. Tot dusver is vyf en dertig hominim spesies ontdek, verteenwoordigend van ongeveer ‘n dosyn indiwidue.
Gebaseer op ontdekkings met betrekking tot die dierelewe het navorsers beweer dat drie miljoen jaar gelede Makapans Vallei “’n ryk tropiese paradys van biodiversiteit “ was wat waarskynlik ingedring is deur jagters en en hul prooi en dat laasgenoemde die slagoffers was. Vandag nog is die vallei se plantegroei besonder welig en baie veiliger. Die vallei beskik oor ‘n verskeidenheid primate soos bobbejane, apies en bosapies ─ laasgenoemde ook bekend as nagapies omdat hulle meesal slegs in die nag gesien word. Voëlkyk in die Makapansgat Vallei is besonder suksesvol en die plantlewe en insekte is eweneens baie interessant.
Die Limpopo Provinsie bied ‘n besondere verskeidenheid natuurskoon en ook aktiwiteite wat dit steeds ‘n gewilde vakansiebestemming maak vir Suid-Afrikaners en buitelanders. Op ‘n volgende besoek aan die Limpopo Proinsie moet ‘n besoek aan die Makapansgat Vallei beslis ingesluit word.